GAUTENG. – Tinyiko Shawn Sengoane (30) van Mamelodi-Oos is lewenslank deur die hooggeregshof tronk toe gestuur vir Olwethu Austin Zwane (6) se moord.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Olwethu het die middag van 22 Oktober 2021 saam met ander kinders in Molamulelestraat gespeel. Sengoane het hom geroep en hom geld gegee om skyfies te koop. Met die seun se terugkoms is hy na Sengoane se huis in dieselfde straat gelok, waar hy met ‘n skerp voorwerp gesteek is en gesterf het.
Die seun se lewelose liggaam is ure later deur Sengoane se oom in ‘n buitestoorkamer ontdek, waarna die polisie ontbied is en Sengoane op die toneel gearresteer is. Hy was sedertdien in aanhouding, aangesien die NVG sy borgaansoek suksesvol teengestaan het.
Mahanjane sê Sengoane het onskuldig gepleit, maar die staat het voldoende bewyse voorgelê om ‘n skuldigbevinding te verseker. Tydens vonnisoplegging het Sengoane versoek die hof moet van die voorgeskrewe minimum lewenslange tronkstraf afwyk. Hy het voorgehou hy is ‘n eerste oortreder wat reeds drie jaar verhoorafwagtend in aanhouding was.
Adv. Lawrence More vir die staat het ter strafverswaring geargumenteer Sengoane het ‘n onskuldige kind vir geen rede nie vermoor en nie berou getoon nie. Hy kon nie aan die hof ‘n rede gee waarom hy die kind vermoor het nie. ‘n Slagofferimpakverklaring deur die seun se ouers is ook by die hof ingedien om te sê hulle het na sy dood siek geraak, wat tot werkloosheid gelei het. More het gevra die hof moenie van die voorgeskrewe minimum lewenslange tronkstraf afwyk nie.
Regter Papi Mosopa het met die staat saamgestem en Sengoane tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die NVG het die vonnis verwelkom.





