Brekende Nuus
Afrikaans

Kinders noodgedwonge verwyder – ouers in hegtenis

Drie minderjarige kinders is uit hul ouers se sorg verwyder en in 'n plek van veiligheid geplaas. Die ouers is in hegtenis geneem.

Kinders by ouers verwyder, ouers in hegtenis geneem
Foto: Ter illustrasie Canva

NOORDWES. – Drie minderjarige kinders van Klerksdorp, onderskeidelik ses jaar (dogter), twee jaar (seun) en nege maande oud (babadogter), is uit noodsaak uit die sorg van hul ouers, die pa (38) en die ma (21) verwyder. Die name van die ouers is aan Nuusflits bekend, maar word ter beskerming van die kinders se identiteit verswyg.

Kapt. Aafje Bothma bevestig sake van beweerde verkragting en kinderverwaarlosing is Vrydag oopgemaak. ‘n Maatskaplike werker het die kinders se situasie aan die polisie rapporteer. Die polisie is na die huis en die kinders is daarna na ‘n plek van veiligheid verwyder.

Bothma sê voorts die ouers het Maandag in die hof verskyn en sal in aanhouding bly tot die saak weer op 19 Desember in die hof voorkom. Die ondersoek duur voort.

Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sê die sake waarvan die ouers aangekla word, is tot 19 Desember uitgestel. Hulle sal dan formeel vir borg aansoek doen.

Bronne: SAPD en NVG