WES-KAAP. – Twee meisies, onderskeidelik 5 en 8 jaar oud, het Saterdag met ‘n klein opblaaslugmatras (lilo) by Millers Point-strand in die moeilikheid beland, waarna hulle veilig uit die see gered is.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê dié diens is kort voor 13:00 ontbied na waar die twee meisies in die moeilikheid beland het. Die lugmatras het vermoedelik in die water begin afblaas. Alle rolspelers is ontbied. Met aankoms op die toneel is bevestig dat albei kinders reeds uit die water gehaal was.
Drie omstanders, twee volwasse mans en ’n volwasse vrou, het die kinders uit die see gered. KPR is op die 5-jarige toegepas totdat haar polsslag en asemhaling herstel het, waarna paramedici mediese sorg oorgeneem het. Albei kinders is in ‘n stabiele toestand na ’n hospitaal vervoer en sal na verwagting ten volle herstel.
Darren Zimmerman, NSRI Simonstad-stasiebevelvoerder, het die omstanders se vinnige ingryping geprys.
Volgens Waybah Phillips het Sadiq Parker, ‘n senior lewensredder van Strandfontein Surf Livesaving Club, wat van diens was, die meisies help red en KPR toegepas.





