GAUTENG. – Vier leerlinge van onderskeidelik Laerskool Karabo en Laerskool Khauhelo het Sondag, soos voorheen berig, gesterf.
Steve Mabona, woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê die kinders het volgens vermoede vergiftigde kos geëet.
Mabona sê volgens inligting is die leerlinge van Laerskool Karabo wat gesterf het ‘n gr. 1-seun (7), ‘n gr. 2 -meisie (8) en ‘n gr. 3-seun (9). Nog ‘n gr. 1-seun van die skool is steeds by ‘n plaaslike mediese fasiliteit in die intensiewesorgeenheid.
‘n Gr. 2-seun (8) van Laerskool Khauhelo het ook Sondag in ‘n afsonderlike insident gesterf nadat hy na bewering versnaperinge wat by ‘n spazawinkel in Naledi gekoop is, geëet het.
Die polisie ondersoek die omstandighede van die leerlinge se dood.
“Die GDO, saam met die betrokke skole, het die nodige ondersteuningstrukture geaktiveer om psigososiale berading aan geaffekteerde leerders, opvoeders en familielede te verskaf.”
Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in die provinsie, sê: “Ons wil ons innige meegevoel betuig met die families, vriende en skoolgemeenskappe wat deur hierdie tragiese voorvalle geraak is. Die veiligheid en welstand van ons leerders bly ons topprioriteit, en ons doen ‘n beroep op ouers, voogde en gemeenskappe om versigtig te wees met voedsel vir hulle kinders.”
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi het aan Nuusflits gesê omstandighede wat tot die kinders se sterftes gelei het, is onbekend en is deel van die polisie se ondersoek.
‘n Geregtelike doodsondersoek is oopgemaak.





