GAUTENG. – Die gedenkdiens van Kira Meyer (12) van Laerskool Skuilkrans, wat op Moedersdag met haar elektriese skopfiets geval het, Vrydag breindood verklaar is en Saterdag gesterf het, vind op Vrydag 22 Mei in Silverlakes plaas.
Angelique Meyer, Kira se ma, sê Dinsdag sy was ‘n trotse Voortrekker by Suiderkruis-kommando en ‘n talentvolle figuurskaatser. Die skopfiets-ongeluk het ‘n ernstige breinbesering veroorsaak, waarna sy in die trauma-intensiewesorgeenheid van ‘n plaaslike hospitaal opgeneem was. Ná dae, waartydens haar familie en ‘n wye ondersteuningsnetwerk om ‘n wonderwerk gebid het, het Kira gesterf. Angelique beskryf haar dogter as ‘n meisie wat lewe in elke vertrek ingedra het. “Sy wou altyd weet wie kom kyk — by haar sport, by openbare toesprake, by elke optrede,” sê Angelique. “Sy was so gelief deur so baie.” Die gesin het ses nagte in die hospitaal deurgebring terwyl Kira verskeie toetse en breinskanderings ondergaan het.
Kira se suster, Charmonique Botha, het ‘n foto gedeel en gesê: “My Kiratjie, al jou boeties en sussie was vandag onder een dak. Ons het geskaats — laat die biesies bewe. Nooit gedink mens moet fiks wees om dit te kan doen nie. Vandag was net vir jou.”
Die gedenkdiens sal oop sal wees vir almal wat haar geken en liefgehad het. Voornemende besoekers word versoek om hul bywoning vooraf te bevestig sodat die familie voldoende sitplek en verversings kan reël. https://forms.gle/bU6gLbahrLU8oxL7A
Lees die plasings op sosiale media hier onder:
Angelique Meyer: Ons liefste Kira het op 10 Mei seergekry met haar elektriese skopfiets. Moedersdag het in ‘n oogwink verander. Sy het ’n ernstige breinbesering opgedoen en is op 15/05/26 breindood verklaar, op 16/05/26 het Kira in ligaam en siel haar engel vlerkies gekry. Ons as familie is oorweldig met die wêreldwye ondersteuning wat ons ontvang het, die gebede, oproepe, kos en blomme. Sy was so geliefd deur so baie. Terwyl ons haar afskeidsdiens probeer reël stroom die hospitaalrekeninge reeds in. Niemand beplan ooit om voorbereid te wees vir die nie, ek het geen idee wat voorlê of die kostes rondom als nie, ek maak nie eers die eposse oop nie. 6 aande in ICU, verskeie toetse en scans waarvan ons medies net 65% betaal. Ons wil net vir my dogtertjie die mooiste diens gee wat daar nog ooit op die aarde was. Kira was in Laerskool Skuilkrans, sy was ‘n voortrekker by Suiderkruis komando en’ n figuurskaatser. Ons het baie mense wat my gevra het om asb. die te begin en vra hoe hulle kan help. Ek het net ‘n bedrag ingesit, ek het nog nooit ‘n kind begrawe of een vir 5 dae in trauma ICU gehad nie, ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Ons wil ook uit ons harte dankie sê vir alles wat reeds na ons kant toe gekom het. Die gelde wat oorbly sal aan die skool oorbetaal word vir Dogters Sport en ander instansies waar die skool betrokke is.
Charmonique Botha: Vandag lê Vrydag soos ‘n berg voor my, die realiteit is besig om in te sink. Ons moet vandag gaan shopping doen vir jou begrafnis uhgg ek haat elke gevoel van die my bene is pins en needles my hart wil nie uit die bed kom nie my kussing is vanmore sopnat gehuil….. My Kiratjie sussie jy het my, jy mag nou maar terugkom. Vandag was net vir jou Kira my sussie al jou boeties en sussie onder een dak, ons het geskaats laat die biesies bewe, nooit gedink dat mens moet fiks wees om dit te kan doen nie.”







