GAUTENG. – Kol. Dimakatso Nevhuhulwi het aan Nuusflits bevestig dat die klaer van die sogenaamde Boksburg-video ‘n verklaring ingedien het om sy klagte terug te trek. Die saakdossier sal nou na die senior staatsaanklaer verwys word vir ‘n besluit oor verdere stappe.
Nuusflits het gister berig ‘n saak van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging is oopgemaak wat deur die Boksburg-polisie ondersoek word. Daar is beweer dat die bestuurder van ’n bakkie sy dogter gaan oplaai het toe hy skielik deur lede van die gemeenskap aangeval is. Sy voertuig is glo met klippe bestook en daar is ook skote in sy rigting gevuur.
Boksburg se Misdaadkantoor het intussen ‘n ondersoek geloods om die verdagtes op te spoor.
Die aanvanklike video-opname is deur André Snyman van eblockwatch en Yusuf Abramjee gedeel en kan in die berig hier onder en elders op Nuusflits gesien word.
Volgens Snyman is wat in die video gesien word na bewering die reaksie van die gemeenskap nadat ‘n ouer man glo onvanpaste opmerkings teenoor ‘n meisie gemaak het. Die kinders was op pad terug van ‘n winkel af. Die ouma het die ouer man se optrede raakgesien, waarna die gemeenskap gereageer het.





