Klein Ava eersdaags gegroet

Lees ook :

Foto: Tayla Venter

Al was Ava Jacobs maar ‘n jaar en 3 maande oud, het sy in haar kort leeftyd baie mense aangeraak. Sy het Donderdagaand in die Netcare Sunninghill-hospitaal gesterf. Afskeid word van haar op 5 Februarie geneem en belangstellendes kan by hierdie skakel aantoon of hulle haar diens wil bywoon of na die lewendige stroming kyk.

Tayla Venter, Ava se mamma, het die nuus van haar afsterwe op sosiale media gedeel: “Ons Ava is by Liewe Jesus. Sy het haar engelvlerkies gekry. Sy het so so hard baklei, maar nou is al die pyn weg. Ons as gesin se harte is vreeslik seer. Ons probeer self nog alles inneem. Ek vra asb. dat almal ons privaatheid respekteer.”

Sit jy Ava se naam in enige soekenjin, is haar lewe en afsterwe wyd en syd gedeel.

Ava wat meer onlangs, buiten ander vorige diagnoses, ook boonop met pulmonêre aarstenose gediagnoseer is, was veronderstel om nog ‘n prosedure te kry, maar was net te swak. In die dae wat haar afsterwe voorafgegaan het, was selfs dokters bekommerd om voort te gaan met die prosedure, juis dié hulp wat die baba so nodig gehad het, omdat sy so swak was.

Die baba se vernoude are het ‘n suurstoftekort veroorsaak. Sy het ook gesukkel om voeding in te neem. Donderdagmiddag net na 16:00 is Ava na die teater vir haar prosedure, waarna Tayla net na 18:00 laat weet het daar is nog nie nuus nie, net om na 22:00 te deel dat Ava oorlede is.

Die babadogter het in haar kort leeftyd veelvuldige hartoperasies ondergaan. Die eerste was kort na haar 6-weke-ondersoek by ‘n pediater.

Ava is op 2 Oktober 2023 gebore en op 16 November het mamma Tayla Venter ‘n sosialemediaplasing gemaak om te sê sy en pappa Addie Jacobs het enkele dae vantevore die nuus gekry dat hulle baba ‘n harttoestand het en ‘n noodoperasie moes ondergaan. Haar hart het onder meer aan die verkeerde kant gesit.

Op 24 November 2023 het mamma Tayla gesê Ava is met heterotaksie-sindroom/ dextrocardia situs inversus (die abnormale rangskikking van organe) en ‘n dubbele uitlaat-regterventrikel gediagnoseer.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief