Pontsho Mocwana, voorsitter van die kleinskaalmynersvereniging in Kimberley, sê hulle is sedert verlede week in vergadering met die premierskantoor van die Noord-Kaap om die bedryf vir kleinskaalmyners te wettig.
Mocwana sê die einddoel van die vergadering is om ’n kleinskaalmynersforum vir die Noord-Kaap te stig wat die kleinskaalmynbedryf in die provinsie kan reguleer.
Die volgende is in die vergadering besluit:
- Alle kleinskaalmynbedrywighede moet gewettig word
- ’n Erf wat aan mnr. Alan Thompson behoort, Kareeboom 209, is deur myners vir prospektering uitgewys
- Thompson is gewillig om ’n gedeelte van sy erf aan die myners beskikbaar te stel
- ’n Groter gedeelte van Thompson se erf is onderworpe aan ’n aansoek ten bate van die Batho Pele-koöperasie van myners
- Die kleinskaalmyners gaan ook aansoek doen vir ’n verdere 10 hektaar
- Die kleinskaalmyners moet voorsien word van die nodige regsdokumente en permitfooie vir twee permitte wat deur die departement van minerale en energiesake uitgereik moet word
- Sodra dit ontvang is, moet die departement onmiddellik begin om die permitte vir die kleiner gedeelte van Thompson se erf te prosesseer
- Die ooreenkoms wat op 26 April 2018 tussen die departement, Ekapa-myn, Sol Plaatje-munisipaliteit en die kleinskaalmynersvereniging gemaak is, geld vir alle kleinskaalmyners in Kimberley en nie net vir die Batho Pele-koöperasie nie
- Alle kleinskaalmyners in en om Kimberley sal toegelaat word om by die toegewysde terreine, waarop in 2018 ooreengekom is, te myn
- Lede van die Batho Pele-koöperasie sal nie myners wat nie deel is van hulle groep, verbied om hier te myn nie
- Die eienaar van 100 hektaar grond in Galeshewe moet nog vasgestel word, sodat onderhandelinge kan voortgaan
- Die Batho Pele- en Greenpoint-koöperasie moet hulle lede van die ontwikkelinge in kennis stel
- Batho Pele- en Greenpoint-koöperasielede moenie Thompson se plaas betree of die aktiwiteite van die plaas verhinder nie
- Die Greenpoint-koöperasie identifiseer voortaan nuwe terreine wat vir kleinskaalmynbedrywighede geskik is om die premierskantoor en die departement in staat te stel om met die eienaars te onderhandel om die bedryf daar te kan wettig
Mocwana sê die departement en die premierskantoor moet sorg dat bogenoemde spoedig uitgevoer word.