WES-KAAP. – ‘n Kleuterseun (3) het op 22 Augustus omstreeks 17:30 op Glenelly Estate (oorspronklik Ida’s Valley Farm) tydens ‘n voorval met ‘n voertuig gesterf.
AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die omstandighede rondom die voorval maak nou deel van ’n polisie-ondersoek uit. Die bestuurder van ‘n motorvoertuig het op die betrokke datum in die voertuig geklim, waarna dit vorentoe beweeg het. In die proses is ’n ander voertuig, sowel as die deur van ’n nabygeleë gebou beskadig.
Volgens rapportering is die liggaam van die minderjarige, wat tydens die voorval onder die voertuig vasgekeer was, deur omstanders bevry. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Die Cloetesville-polisie het ’n saak van strafbare manslag vir verdere ondersoek geregistreer. Enigiemand met relevante inligting word gevra om na vore te kom.





