WES-KAAP. – ‘n Kleutermeisie (3) het Vrydag in Witsand, ongeveer 20 kilometer stroomop van die monding van die Breederivier, verdrink.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder sê die Witsand-diensspan is kort voor 15:00 na ‘n verdrinking ontbied. Die reddingsboot JetRIB is onmiddellik ter water gelaat en die regeringsnooddienste en die polisie is ontbied. Met aankoms het die span gevind dat plaaslike inwoners reeds KPR op die drenkeling uitvoer. NSRI-paramedici het met die KPR-pogings gehelp, waarby nooddienste aangesluit het. Die kleuter is egter dood verklaar.
Haar liggaam is aan die polisie en forensiese patologiese dienste oorhandig. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geregtistreer. Volgens rapportering is die kleutermeisie leweloos in die water aangetref, voordat familie haar probeer red het. Die gesin kom oorspronklik van Malawi.
Lambinon het meegevoel teenoor die familie en vriende van die meisie uitgespreek.





