GAUTENG. – Nadat Nada-Jane Therése Challita (4) op 23 Januarie 2023 drywend in ‘n bad water aangetref is, het Amber Lee Hughes (25), haar kleuterskoolonderwyseres en die destydse meisie van die oorlede kind se pa, op twee aanklagte van verkragting en moord onskuldig gepleit.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die saak het Maandag in die Johannesburg-hooggeregshof voorgekom. Daar is in die hof getuig die onderwyseres het ‘n romantiese verhouding met die oorlede meisie se pa aangeknoop en by hulle ingetrek. Die verhouding was egter deur gereelde onderonsies gekenmerk, waartydens Hughes glo gereeld sou dreig om die kleuter leed aan te doen.
Op die betrokke dag was die kleuter se pa nie tuis nie, waartydens die beskuldigde haar glo met ‘n onbekende voorwerp verkrag het. Sy het haar na bewering daarna in ‘n bad water verdrink. Die beskuldigde is met beide haar polse gesny, aangetref.
Mjonondwane sê ‘n eerste getuie is aangehoor, waarna die saak tot vandag uitgestel is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com