Die DA sê ‘n 3-jarige kind wag reeds twee en ‘n half jaar (30 mnde.) vir ‘n breukoperasie by die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg. Die party meen die geval is deel van ‘n groter probleem van lang wagtye vir noodsaaklike operasies. 217 kinders wag tans vir operasies by dié hospitaal.
Madeleine Hicklin, die DA se Gautengse woordvoerder oor gesondheid, sê die party gaan vir Faith Mazibuko, die Gautengse LUR vir gesondheid, vra waarom voorstelle om meer operasiekapasiteit vir kinders te skep nog nie toegepas is nie. Volgens inligting wat die DA van die Gautengse departement van gesondheid ontvang het, wag 217 kinders tans vir chirurgiese prosedures by die hospitaal. Die departement skryf die agterstand toe aan ‘n tekort aan operasieteaters vir beplande prosedures, die groot aantal noodoperasies, beperkte narkosedienste en ‘n tekort aan spesialispersoneel.
Hicklin sê dit is onaanvaarbaar dat kinders vir so lank vir behandeling moet wag, aangesien sommige toestande mettertyd ernstig of selfs lewensgevaarlik kan raak indien dit nie betyds behandel word nie. ‘n Breuk kan ernstige komplikasies veroorsaak indien dit nie betyds behandel word nie. Indien ‘n deel van die derm vasgekeer word, kan dit erge pyn en ‘n dermverstopping veroorsaak. As die bloedtoevoer afgesny word, kan die weefsel afsterf, wat sonder dringende chirurgie tot ‘n geperforeerde derm, bloedvergiftiging en selfs die dood kan lei.
Hicklin sê terwyl opknappingswerk by Tambo Memorial-hospitaal voorduur is ‘n pasiënt wat reeds langer as ‘n jaar vir ‘n heupoperasie wag, weens pyn in haar huis gekluister. Volgens die party is die vertraging die gevolg van die opknapping en dat die hospitaal nie ‘n verwysingsroete vir haar en ander pasiënte wat op beplande operasies wag, kon reël nie. Die DA doen ‘n beroep op die Gautengse departement van gesondheid om dringend stappe te doen om die groeiende agterstand in operasies te verminder en wagtye by openbare hospitale te verkort.
Die party sê lang wagtye vir behandeling en die versuim om pasiënte betyds te help, bly ‘n ernstige probleem by verskeie Gautengse openbare hospitale.
Faith Mazibuko, die Gautengse LUR vir gesondheid, sê in ‘n skriftelike antwoord aan die Gautengse provinsiale wetgewer dat die lang wagtye hoofsaaklik toegeskryf word aan beperkte kapasiteit vir beplande kinderoperasies, die groot aantal pasgebore babas wat noodbehandeling en chirurgie benodig, ‘n tekort aan narkotiseurs en subspesialiste, asook beperkte toegang tot operasieteaters. Afhangend van die tipe operasie, wissel wagtye van sowat agt tot byna 15 maande.
Die departement sê verskeie maatreëls word oorweeg om wagtye te verkort, maar personeeltekorte en die beperkte beskikbaarheid van operasieteaters bly groot uitdagings.
Lees meer hier onder:









