GAUTENG. – Kol. Karel Swanepoel, tans die stasiebevelvoerder van Pretoria Moot, het op 25 Oktober sy medalje vir 40 jaar getroue diens van lt.genl. Tommy Mthombeni ontvang.
AO Johan van Dyk sê Mthombeni, die provinsiale kommissaris in Gauteng, het verlede Vrydag altesaam 37 polisielede vir 40, 30, 20 en 10 jaar getroue diens by Paterson Park in Norwood vereer.
Swanepoel het in Wonderboom-Suid grootgeword en was ‘n leerling aan Laerskool Boerefort, waarna hy in 1982 by Afrikaans Hoër Seunskool gematrikuleer het.
Op 1 Januarie 1983 sluit Swanepoel by die polisie aan en doen diens by Gezina-polisiestasie totdat sy opleiding dieselfde maand by die SAPD Opleidingskollege in Pretoria-Wes begin. Na voltooiing van sy opleiding was hy by Johannesburg-Sentraal-polisiestasie (voorheen John Vorster Square) gestasioneer. In 1988 is hy na die Pretoria-areakantoor oorgeplaas en in 1992 voltooi hy ‘n offisierskursus in die Paarl, waarna hy later dieselfde jaar as kaptein aangestel is en die stasiebevelvoerder van Wonderboompoort-polisiestasie word. Oor die jare wat gevolg het, was Swanepoel ook die bevelvoerder van Eersterust, Kameeldrift en Silverton, waarna hy die leisels as bevelvoerder by Pretoria Moot oorneem.
“Sy uitgebreide ervaring in die polisiediens, saam met sy professionele en voorbeeldige bestuurstyl, word opreg deur die lede van Pretoria Moot SAPD waardeer. Boonop is kol. Swanepoel passievol daaroor om die gemeenskap, waar hy grootgeword het, te dien.”
Maj.genl. Samuel Thine, die distrikskommissaris van Tshwane, wens kol. Swanepoel geluk met die ontvangs van sy medalje en prys sy toewyding aan die polisie en die gemeenskap.





