GAUTENG. – ’n Leeu wat vir gespesialiseerde behandeling na die Onderstepoort Veeartseny Akademiese Hospitaal (OVAH) verwys is, het Woensdag besondere aandag by die wilddiensspan ontvang, wat gevorderde diagnostiese toetse op hom uitgevoer het.
OVAH sê op sosiale media die majestueuse dier het die volle aandag van die span by die hospitaal ontvang, nadat hy vir ‘n omvattende ondersoek verwys is. As deel van ‘n volledige diagnostiese evaluering het die ondersoek onder meer ’n ultraklankondersoek en ’n CT-skandering ingesluit. Volgens die span is dit altyd ’n besondere ervaring om met diere van hierdie omvang en krag te werk. Die personeel dat selfs hierdie ikoniese roofdiere soms mediese sorg en behandeling benodig.
Die OVAH se wilddienskliniek speel nie net ’n rol in die behandeling van wilde diere nie, maar dien ook as ’n opleidingsomgewing vir toekomstige veeartse en veeartseny-verpleegkundiges. Studente werk saam met ervare spesialiste en kry praktiese blootstelling aan wilddiensgeneeskunde en bewaring. Volgens die hospitaal dra elke geval by tot opleiding en kennisontwikkeling, wat uiteindelik die toekoms van veeartsenykundige sorg versterk.
Die span het beklemtoon dat ontmoetings met sulke diere nie alledaags is nie en elke geval as ’n waardevolle en unieke ervaring beskou word.






