GAUTENG. – Die Suid-Gautengse hooggeregshof het konst. Kagiso Sehlahla (34) tot 13 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Zenande Mzini (14), wat op 13 Julie 2021 tydens die Julie-onrus in die Zamimpilo- informele nedersetting in die kop geskiet is. Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê polisiebeamptes is omstreeks 13:50 na die High Gate-winkelsentrum ontbied om ’n groep uiteen te jaag wat volgens Opod die winkels wou plunder. Beamptes het rubberkoeëls gebruik om die groep terug te dryf, waarna die mense die nedersetting in gehardloop het. Sehlahla, wat by die Langlaagte-polisiestasie gestasioneer was, het verskeie skote met sy staatsuitgereikte R5-geweer geskiet.
Opod-ondersoekers het patroondoppies op die toneel gevind wat met Sehlahla se geweer ooreengestem het. Volgens ’n ballistiese deskundige het ’n koeël wat uit die lug gekom het, Zenande in die kop getref. Koeëlfragmente wat tydens die lykskouing uit sy kop verwyder is, is ook met die geweer verbind. Die polisie se rekords wys dat Sehlahla die geweer sonder ’n magasyn of ammunisie uitgeteken het. Volgens Opod is dit onbekend waar hy die ammunisie gekry het.
Die hof het Sehlahla tot 13 jaar vir moord, ses maande vir die onwettige besit van ammunisie en twee jaar vir die roekelose hantering van ’n vuurwapen gevonnis. Die hof het gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word. Opod het die vonnis verwelkom.