KWAZULU-NATAL. – Die Westville-polisie ondersoek twee teenstrydige weergawes van ’n voorval waarin drie honde vir Sizwe Doncabe (45) op 18 November in Koningkramerlaan in Westville aangeval en ernstig beseer het. Die polisie het aanvanklik ’n saak geopen oor die beweerde versuim om te verhoed dat ’n dier iemand beseer. Die honde-eienaar (34) het daarna ’n teensaak van gewone aanranding aanhangig gemaak.
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die vrou beweer ’n man het haar genader terwyl sy vullis uitgesit het en haar daarna tot in haar erf gevolg, waar haar honde hom aangeval het. Volgens haar weergawe het hy haar glo gegryp om hom teen die honde te beskerm.
Luidens die aanvanklike aanmelding het die man by die huis verbygeloop toe drie honde hom aangeval het. Hy is met ernstige beserings hospitaal toe geneem.
Doncabe betwis op sy BackaBuddy-veldtogblad dat hy die erf betree het. Hy sê hy het die straat oorgesteek nadat hy gesien het hoe die vrou vullissakke uitsit. Volgens hom was die hek nog oop toe die honde hom aangeval het, voordat hy by die sakke kon kom. Daar is reeds meer as R100 000 ingesamel vir Doncabe se behandeling, rehabilitasie en basiese lewenskoste. Die beoogde bedrag deur Kyle van Reenen was R10 000.