KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisiekonstabel van Newlands het gister waarskynlik sy eie lewe gered deur takties te reageer in ‘n staatsvoertuig waar hy glo op die hoek van Inandapad en Marblerayrylaan deur verdagtes met vuurwapens genader is.
Volgens kol. Robert Nethiunda het die vinnige optrede van lede van Ntuzuma-polisiestasie kort daarna tot die inhegtenisneming van twee verdagtes, onderskeidelik 20 en 30 jaar oud, vir poging tot moord gelei.
Na bewering het die polisiekonstabel,wat aan diens was, stilgehou en ‘n wit Ford het glo van die kant gekom. Twee verdagtes het na bewering uitgeklim en die konstabel met ‘n vuurwapen genader. Hy het blitsvinnig gedink en agteruit gery in ‘n poging om dekking te kry. Die verdagtes het glo agter hom aangejaag en op hom geskiet. Hy het teruggeskiet en die verdagtes het op vlug geslaan.
Polisielede van Ntuzuma het die voertuig opgemerk, voorgekeer en deursoek. ‘n Vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgevyl is, is saam met Gauteng-nommerplate en verskeie bankkaarte in die voertuig gevind.
Beide verdagtes sal Maandag vir poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen in die Durban-landdroshof verskyn.





