GAUTENG. – Konst. Martin van der Westhuizen (33), wat onthou sal word vir ‘n TikTok-video in Julie 2023 wat aan hom die bynaam “Crush of the Nation” besorg het, is nou ‘n gekwalifiseerde hommeltuigvlieënier. Van der Westhuizen van Lyttelton-polisiekantoor word in Jeugmaand (in Junie) vereer as ‘n jong lid wat meer doen as wat van hom verwag word.
Lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Van der Westhuizen het reeds ná matriek in 2010 sy droom nagestreef om by die polisiediens aan te sluit. Hy het verskeie kere aansoek gedoen en is uiteindelik in 2018 opgeneem. Met meer as sewe jaar diens agter sy naam, spog Van der Westhuizen met twee sertifikate vir erkenning van uitstaande dienslewering wat hy onderskeidelik gedurende 2019 en 2021 van die nasionale kommissaris gekry het.
In Julie 2023 het Van der Westhuizen, wat ’n begrafnisdiens van ’n kollega in Vosloorus bygewoon het, viraal op sosiale media gegaan. ’n Gemeenskapslid wat sy professionele voorkoms bewonder het, het die video op TikTok geplaas.
Wanneer hy nie besig is om klagtes by te woon of te hanteer nie, inhegtenisnemings maak of verdagtes aan te hou nie, is hy met ‘n hommeltuig by misdaadvoorkomingsoperasies betrokke. “Ek dra nie net my polisie-uniform nie, dit is my missie om die waardes wat daarmee gepaard gaan elke dag uit te leef,” sê Van der Westhuizen.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]






2 Responses
Ons sexy polisie man ons is super trots op Jo ❤️🙏
Bakgat.
‘n Besonderse voorbeeld aan andere in diens!!