MPUMALANGA. – Inwoners van Barberton word gewaarsku om water te kook voordat dit gedrink word. Diarree het uitgebreek en die lewe van ‘n baba in Barberton-hospitaal gekos.
Hande en kos moet ook deeglik gewas word. Altesaam 73 voorvalle is reeds aangemeld en 18 persone gehospitaliseer.
Die uitbraak in die uMjindi-area het die gesondheidsdepartement genoop om ‘n reaksiespan te ontplooi om na die oorsprong van die infeksie te soek en die verspreiding te keer.
Uitslae van monsters wat van ses waterbronne vir toetsing geneem is, word afgewag.
Die departement van water in die gebied het alle nodige owerhede, insluitend die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit se gesondheidsdepartement, in kennis gestel. Water is as voorsorgmaatreël ontsmet en die situasie word gemonitor. Gesondheidsinspekteurs van Ehlanzeni is ontbied en behoorlike ondersoek word gedoen.
Bronne: City of Mbombela, SABC News en Rdl. Philip Minnaar





