Suid-Afrikaners kan Donderdag sterk winde en reën in dele van die land verwag, terwyl die Suid-Afrikaanse Weerdiens ook teen uiters hoë brandgevaar waarsku.
Volgens die weerdiens is ’n geel vlak 2-waarskuwing vir skadelike winde vir die kus tussen Port Alfred en Port Edward uitgereik. ’n Tweede waarskuwing geld tussen Port Edward en Richardsbaai. Plaaslike ontwrigting by strande, klein hawens en seevaart word verwag, terwyl sterk winde ook plaaslike skade aan infrastruktuur en nedersettings kan veroorsaak. Durban en Richardsbaai kan soggens geïsoleerde buie en reën kry, terwyl sterk noordelike tot noordoostelike winde later kan ontwikkel.
Volgens Vox Weather sal gedeeltelik bewolkte toestande oor die grootste deel van die land voorkom, met ligte reën in die ooste en ’n moontlike vinnige bui oor dele van Sentraal-Suid-Afrika. Intussen word uiters hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap verwag, onder meer in Dawid Kruiper, Kai !Garib, Kareeberg, !Kheis en Siyathemba.
Vox Weather sê noordelike winde sal oor die binneland versterk, terwyl bergwinde na die binneland van die Kaapprovinsie kan waai.
Bronne: Suid-Afrikaanse Weerdiens en Vox Weather