WES-KAAP. – Die gemeenskap van Oudtshoorn sal Dinsdag bymekaarkom om hulde te bring aan die 3-jarige Dianielle Kashiefa Rhodes, wat Maandagoggend tragies in ‘n fratsongeluk dood is. ‘n Gedeelte van ‘n pilaar het op haar geval.
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) sê ‘n kranslegging sal Dinsdag 14 Julie om 14:00 by die meisie se ouerhuis in Bongolethu gehou word om die familie te ondersteun. Geestelike leiers, gemeenskapsleiers, inwoners, familie en vriende word uitgenooi om die geleentheid by te woon en hul medelye te betoon. Volgens OCAC het die tragedie skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Lede van die organisasie, onder leiding van biskop Doc Botha, het die familie reeds ná die voorval besoek om ondersteuning en vertroosting te bied.
OCAC doen ook ‘n beroep op die publiek om die meisie se ouers, broers, susters, familie en vriende in hul gebede te hou terwyl hulle die verlies verwerk.





