LIMPOPO. – Minstens 42 insittendes van ‘n bus is dood, nadat die bus wat vanaf Gqeberha na Malawi onderweg was, Sondag omstreeks 18:00 op die N1 noord naby Ingwe Lodge, buite Musina, ‘n ongeluk gemaak het.
Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid sê in ‘n verklaring Violet Mathye, die LUR vir die departement, was reeds gisteraand na die toneel onderweg. Die bus het glo die pad byster geraak, is teen ‘n wal af en het op sy dak beland. Padgebruikers is te midde van Vervoermaand gevra om versigtigheid aan die dag te lê. Die departement het medelye met diegene wat deur die voorval geraak word, uitgespreek. Die oorledenes sluit 18 vroue, 17 mans en sewe kinders in.
Die pad was gesluit en motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak. Bestuurders van Makhado na Musina moet van die Witvlag-afdraai gebruik maak, terwyl verkeer vanaf Musina na Makhado die Williespoort-afdraai moet gebruik.
Verdere besonderhede sal bekend gemaak word sodra meer inligting beskikbaar is.
Die DA in die provinsie het kort gelede in ‘n verklaring op sosiale media medelye teenoor die families van die oorledenes uitgespreek en sê daar is steeds vasgekeerdes in die bus.
Lees die verklaring hier onder: (Vertaal van Engels na Afrikaans)
Die DA in Limpopo is diep geraak deur die veelvuldige sterftes wat veroorsaak is deur ’n verskriklike busongeluk op die N1 buite Louis Trichardt gister. ’n Bus wat na Zimbabwe op pad was, het glo beheer verloor op die gevaarlike bergpas naby Ingwe Inn en is die steil berg af. Terwyl daar nog passasiers in die bus vasgekeer is, is daar reeds van 42 sterftes, insluitend kinders, berig.
Die N1 bly in albei rigtings gesluit. Motoriste wat tussen Musina en Louis Trichardt reis, word aangeraai om die Witvlag- en Williespoort-roetes te gebruik. Hierdie tragiese ongeluk beklemtoon die behoefte aan groter padveiligheid, sigbaarheid en doeltreffendheid van verkeerswetstoepassing op ons paaie gedurende die komende vakansieseisoen.
Die DA doen ’n beroep op ’n ondersoek na ongelukke op die bergpasse in Limpopo om die gereelde ongelukke wat dikwels tot lewensverlies lei, te help voorkom.
Ons gedagtes en gebede is by die vriende en families van die oorledenes gedurende hierdie baie moeilike tyd, en ons hoop dat die beseerdes volkome sal herstel.
Marie Helm MPL
DA Provinsiale Woordvoerder vir Vervoer en Gemeenskapsveiligheid





