Die Afrikaans Oppi Platteland-musiekfees wat die naweek op Môreson-plaas in Malmesbury plaasgevind het, was ‘n reuse sukses.
Lees ook: ‘Afrikaans jy is meer as ‘n taal, jy is wat ons een maak’
Dirkie Gildenhuys, organiseerder van dié fees, sê dit het al sy verwagtinge oortref. “Ons het 9500 mense deur die hekke gehad. Ons kyk volgende jaar na 13 000 – 15 000 mense. Ons skuif die feesterrein volgende jaar na ‘n groter area op Môreson met beter uitleg en baie groot verrassings om na uit te sien. ‘n Klomp afdelings kom volgende jaar by.”
Gildenhuys sê hy was beïndruk dat daar geen voorvalle was wat die feestelikheid kon bederf nie. “Die mense het ‘n vreeslike lekker tyd gehad en ons is so bevoorreg om al dié fantastiese kunstenaars na die publiek te kon bring.”
Kunstenaars wat vanjaar opgetree het, sluit in: Samantha Leonard, Robbie Wessels, Brendan Peyper, Demi Lee Moore, Elandré, Jay, Appel, Juan Boucher, Ricus Nel, Karlien van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld, Riaan Benade, Kurt Darren, Bok van Blerk, Snotkop, Die Heuwels Fantasties en Early B, met Angelique Gerber en Altus Theart as aanbieders. ‘n Verrassingsoptrede deur Jakkie Louw het ook die gehoor gaande gehad.
Nuusflits was ‘n mediaborg van dié fees en het die dag se opwinding bygewoon. Jana Engelbrecht, redakteur van Nuusflits, sê dit was ‘n eer om deel te wees van dié fees. “Ons het ons nuwe platform, Nuusflits, ‘n dag voor die fees aan die publiek bekend gestel. Ons het juis hande gevat met Afrikaans Oppie Platteland omdat ons trots is om Afrikaans te wees, ons ondersteun die Afrikaners van Suid-Afrika en bied elke dag ‘n gratis diens aan hulle. Dit was so lekker om so baie mense bymekaar te sien wat net van alle bekommernisse vergeet vir een dag. Almal het ‘n lekker tyd gehad, oud en jonk. Die fees het ‘n vreeslike lekker atmosfeer gehad en ons sal vir seker in die toekoms weer betrokke wil wees.”
Daar was ook kampgeriewe vir die wat tot laat wou kuier en sekuriteit was oral op die terrein te sien om seker te maak die fees is veilig en georganiseerd vir almal.