KWAZULU-NATAL. – Twee vroue is Donderdagmiddag op die toneel van ‘n botsing tussen twee ligte motorvoertuie en ‘n vragmotor op die R614, naby Ndondolo, dood verklaar.
Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue sê in ‘n sosialemediaplasing albei bestuurders van die ligte motorvoertuie het traumatiese beserings opgedoen en is op die toneel oorlede. Twee insittendes van een van die voertuie, ’n moeder en haar kind, is vir matige beserings behandel en per ambulans deur IPSS na ’n mediese fasiliteit vervoer. Nog twee insittendes het ligte beserings opgedoen en het op die toneel mediese hulp ontvang en vervoer na ’n hospitaal van die hand gewys.
Die bestuurder van die vragmotor het slegs ligte beserings opgedoen.
Die owerhede doen verdere ondersoek na die voorval.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê ‘n motoris het dié diens se operasionele sentrum in Tongaat vir hulp gebel. Op die toneel is gevind ‘n silwerkleurige Hyundai i10 is deur ‘n vragmotor wat suikerriet vervoer getref. ‘n Silwerkleurige Toyota Corolla het ongeveer 150 meter verder op sy kant gelê. Beide die bestuurders het gesterf. Die vragmotorbestuurders het reaksiebeamptes ingelig beide die ligte motorvoertuie het glo in dieselfde rigting gery. Die Toyota Corolla het na bewering in die agterkant van die Hyundai i10 vasgery en dit in die vragmotor, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, se pad gedwing.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





