PAARL, WES-KAAP. – ’n Brand het Woensdag teen die laer hange van Paarlberg uitgebreek. Die brand is Woensdagaand teen 22:00 onder beheer gebring.
Branddienste van die Kaapse Wynlanddistrik is ontplooi om te help. Daar was twee grondspanne wat deur sewe brandweervoertuie ondersteun is. Twee helikopters is ook ingespan nadat die brand na die agterkant van die Groenvlei-woonbuurt versprei het.
Die brand het glo in twee stroke aan beide kante van die Jan Phillips-bergpad versprei. Uitheemse plante het die bestryding van veral die brand aan die onderkant van die pad bemoeilik omdat dit as brandstof vir die vuur gedien het.
Brandbestryders het deurnag op die toneel gebly om te verhoed dat die brand nie weer aktief raak nie.
Derick Damons, hoof van die Kaapse Wynland-branddienste, het inwoners bedank vir hulle vinnige optrede om die brand aan te meld.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Christoff Smit het die volgende video op TikTok geplaas:
@christoff.smit Paarl Mountain burning at the moment. Fire crews working hard to gain control. #southafrica #today #paarl #fyp
♬ original sound – Christoff Smit


Bronne: Paarl Post, Drakenstein-munisipaliteit, NCC Wildfires





