GAUTENG. – Die matrieks van Hoërskool Dinamika in Alberton se koppe het gedraai toe hulle op 13 Junie ‘n spesiale Checkers Sixty60-aflewering kry.
Hulle skoolloopbane mag gemiddeld 12 jaar geduur het, maar hulle matriekafskeiduitnodigings is, soos die belofte deur Checkers gestand gedoen word, onder 60 minute van begin tot einde, afgelewer.
Die skool het die video en foto’s van die besonderse aflewering gedeel waar die matrieks nog almal in die eksamenlokaal teenwoordig is.
Drie Checkers Sixty60-motorfietse kom die saal van agter binne, lewer die uitnodigings in hul spesiale geseëlde papiersakke af en ry dan weer by die kantdeur van die saal uit. Die uitnodigings word dan deur die onderwysers teenwoordig aan die leerders uitgedeel.
Ander onderwysers op die balkon en elders in die saal het reg gestaan om die oomblik op kamera vas te vang.
“Beep, beep! Checkers has done the impossible! Hoërskool Dinamika Matrics of 2024, are you coming along?”








