Chris Steyn, oftewel Plakkies, soos wat sy aanhangers hom ken, het vanoggend sy nuwe liedjie, In Die Bos, vrygestel en laat jou weet waarom alles vir hom in die bos beter is.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê: “Met sy plakkies, sy sielvolle stem en sy opregte persoonlikheid het Chris die harte van Suid-Afrikaners gewen toe hy in 2023 as die wenner van die gewilde sangkompetisie Die Kontrak gekroon is. Sedertdien het hy nie net sy merk gemaak nie, hy het diep gewortel geraak in die plaaslike musiekbedryf.”
Chris se vorige enkelsnit, Plaas Dorp Toe, het ‘n plek in die Apple Music Top 10-ranglys ingeneem en is ‘n gunsteling onder aanhangers.
“Plaas Dorp Toe is 100% een van die groot redes hoekom ek nou nog my droom kan uitleef en elke naweek voor mense kan sing. Die liedjie het my loopbaan baie, baie goed beïnvloed. Ek het toe gehelp met die skryfwerk en dit was ‘n baie lekker proses. Ek sien baie uit om te hoor wat die mense daarvan dink,” sê Chris en voeg by daar is nie ‘n groot verskil tussen Plaas Dorp Toe en In Die Bos nie en beskryf die styl as easy-going.
Nel beskryf In Die Bos as ‘n kuierliedjie wat gaan oor die eenvoudige plesier van tyd in die bos deurbring, waar die bier blykbaar net beter proe. Hy sê voorts die liedjie is ‘n idee van Marco van Deventer en Georic Lomas, wat ook kreatief by Plaas Dorp Toe betrokke was. Met In Die Bos wys Chris weer waarom hy een van die opwindendste stemme in Afrikaanse musiek is.
Die musiekvideo vir In Die Bos is deur Eric T Graham en Thehan Buys van ETC Creative op die plaas Tilodi in Thabazimbi, in die Bosveldprovinsie, Limpopo, verfilm.
“Dis ’n ongelooflike mooi plaas en ons het baie pret gehad tydens die verfilming,” vertel Chris met ’n glimlag. “Ek hoop die luisteraars vind aanklank by die liedjie soos ek doen en kuier lekker daarop. Daar is nog hope nuwe musiek op pad, 2025 gaan ’n groot jaar wees!”
Kry In Die Bos op alle stroomdienste hier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com