Die Demokratiese Alliansie (DA) het Vrydag bevestig dat verskeie strafregtelike prosesse teen ANC-kabinetslede aan die gang is.
John Steenhuisen, die DA se federale leier, sê die Valke is reeds besig met ‘n ondersoek nadat strafregtelike aanklagte verlede week teen Nobuhle Nkabane, die minister van hoër onderwys, gelê is vir beweerde misleiding van die parlement en die fasilitering van kaderkorrupsie. Die party bevestig verder dat ’n ondersoek na beweerde korrupsie teen Thembi Simelane, die minister van menslike nedersettings, aan die gang is nadat ‘n klagte ook teen haar ingedien is.
Ian Cameron, voorsitter vir die portefeuljekomitee oor die polisie, parlemêntere lid, DA-woordvoerder vir die polisie en misdaadaktivis, het aangekondig dat hy besig is met ’n gesamentlike parlementêre ondersoek ná bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ná die “skokkende aantygings teen die minister van polisie, Senzo Mchunu en ander rolspelers in die stelsel.
Terwyl president Cyril Ramaphosa geen stappe neem teen korrupte ANC-ministers en hul adjunkte in die nasionale uitvoerende gesag nie, sê die DA dat hulle aanhou veg teen hierdie korrupsie. Volgens die DA wys die president se versuim om Simelane, Nkabane en ander wetsoortreders uit hul ampte te verwyder, op die ANC se voortdurende beskerming van korrupsie.
Die party sê hulle sal teen die begrotings van korrupte ministers stem, aangesien “baie van hulle nie eens met een rand vertrou kan word nie, wat nog te sê met miljarde.”
“Eerwaarde President, as ú nie die regering gaan opruim nie, sal die DA dit doen. Ter wille van elke Suid-Afrikaner,” sê John Steenhuisen, DA- federale leier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





