Demi Lee Moore het pas haar album, Klein Dingetjies, vrygestel. Sy sal vanaand op ‘n spesiale kykNet-program te sien wees en pryk boonop op ‘n reklamebord op Times Square in New York in die VSA.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê dit is byna agt jaar sedert Demi Lee Moore die gewilde televisiereeks Die Kontrak in 2018 met haar liedjie Mis Eet Slaap Herhaal gewen het.
Gedurende 2023 reik sy Hart Breek uit waarvoor sy ‘n Aitsa-toekenning inpalm. Dié sangeres het boonop die verhoog saam met Cam, ‘n internasionale kunstenaar, met die sing van Diane in Kaapstad gedeel.
Nel sê die nuwe album bevat agt liedjies wat ook Hart Breek (2023) en Net Myne (2024) insluit. Die res van die liedjies is splinternuut. Mooi In Jou is op 14 Maart uitgereik en is deur Marco van Deventer en Georic Lomas geskryf en is volgens ‘n sosialemediaplasing van Moore op haar tweede huweliksherdenking gegrond: “Deur jou oë, skyn die son elke dag. Die mooi in jou sien die mooi in my.” “Ek was op die dag van my en Bart se tweede huweliksherdenking in die ateljee en het daardie oggend daardie woorde geplaas. Hierdie liedjie is vir my baie spesiaal, want dit beskryf werklik hoe ek voel oor hoe Bart oor my voel,” sê Moore.
Met die liedjie Iemand Soos Jy, sing Moore in ‘n duet saam met die sanger Elandré. “Ek en sy dreig al jare om ’n liedjie saam te doen. Gelukkig vra sy my,” sê Elandré.
“Hy is net ongelooflik kreatief en ek is mal oor hom,” sê Moore.
Bitter Min is deur Moore self, Georic Lomas en Renier van der Westhuizen geskryf. Jare gelede het sy op die lirieke van Outydse Liefde van Gian Groen verlief geraak en het die liedjie met sy toestemming opgeneem.
Toe Kies Jy My, die laaste liedjie op die album, is deur wyle Johan Oberholzer geskryf. Moore sê: “Ons het na Johan se dood ’n boodskap op Arnold se foon gevind waarin hy lank terug ’n liedjie gestuur het. Ons het besluit om dit ter ere van hom op te neem.”
Nel sê met Spotify se EQUAL Africa-veldtog is Moore as die eerste Afrikaanse vroulike kunstenaar aangewys wat vroulike kunstenaars van die vasteland bemagtig, hul musiek wêreldwyd bevorder en boonop op ‘n Times Square-reklamebord pryk. En hoe voel Moore hieroor? “Om deel te wees van die EQUAL-veldtog beteken vir my die wêreld. Dit is ’n eer om ander vroue in die musiekbedryf te inspireer,” sê sy.
Wil jy meer oor Moore se loopbaan in die musiekbedryf sie? Skakel vanaand om 20:00 op kykNet, DStv-kanaal 144 in. Carien Loubser van Brainwaive Produksies het die program vervaardig en sluit onderhoude met Moore se ma, haar suster, haar man, grootbaas Arnold Coleske, Georic Lomas en Paulo Azevedo in.
Demi Lee Moore kan op alle sosialemediaplatforms gevolg word.





