Brekende Nuus
Afrikaans

KYK: Drie in vragmotor koes toe daar geskiet word

Foto's: Skermgrepe van video-opnames, soos ontvang
Foto's: Skermgrepe van video-opnames, soos ontvang

OOS-KAAP. – In twee video’s aan Nuusflits verskaf, kan die vrees van drie persone in die kajuit van ‘n vragmotor gesien word, toe daar op hulle geskiet word.

Die eerste video wys die kajuit binne en die tweede video wys die skieters in die pad, wat bloot, sonder huiwering, na die vragmotor skiet. Die vragmotorbestuurder word genoodsaak om vir die skieters uit te swenk, sodat hy hulle nie raakry nie. ‘n Sirene kan deurentyd gehoor word.

Kol. Priscilla Naidu sê ‘n klaer het Maandag omstreeks 11:50 op die Old Uitehage/Rocklands Road gery toe vier mans van die kant af in die pad gehardloop het. Twee van die mans was gewapen en het op die vragmotor geskiet in ‘n poging om dit tot stilstand te dwing.

Die vragmotorbestuurder het egter aanhou ry. Die windskerm was beskadig, maar geen beserings is opgedoen nie.

Naidu sê dieselfde oggend tussen 07:00 en 10:00 was daar ‘n diensleweringsprotesaksie op dié pad. Die protesteerders is egter deur die polisie uitmekaargejaag en was nie meer gedurende die skiet-insident teenwoordig nie.

‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.