KWAZULU-NATAL. – Polisiebeamptes wat ‘n leerling met ‘n polisievangwa na ‘n matriekafskeidsfunksie in Estcourt vervoer het, is tydelik van operasies onttrek hangende die uistlag van ‘n interne ondersoek. Kostebepaling vir die gebruik van staatsbronne is vasgestel en die beamptes kan selfs hangende die uitkoms van die ondersoek moontlik krimineel aangekla word en uit die diens ontslaan word.
Kol. Robert Netshiunda sê die beamptes was aan diens toe hulle die kind van ’n kollega na die matriekafskeid geneem het. In dié tyd het hulle hul primêre verantwoordelikhede versaak om polisiesigbaarheid te verseker, klagtes by te woon en die gemeenskap veilig te hou.
“Ek het die distrikskommissaris van Uthukela opdrag gegee om te verseker dat die onmiddellike bevelvoerder van die betrokke beamptes dringend dissiplinêre stappe teen hulle neem. Ons kan dit nie bekostig dat polisiebeamptes vir diens aanmeld en dan staatsbronne vir persoonlike gewin gebruik nie. Ek het verder ons finansies-en-voorsieningskettingbeampte opdrag gegee om die finansiële verlies vir die staat weens daardie ongemagtigde optrede te bepaal. Staatspetrol, staatsdiensure en die bedryfskoste van daardie voertuig moet van die betrokke lede verhaal word. Gemeenskappe kla gedurig dat daar nie voertuie beskikbaar is wanneer hulle polisiekantore skakel nie, terwyl polisiebeamptes rondry met staatsbronne wat bedoel is om gemeenskappe te dien,” het die provinsiale kommissaris, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi gesê.
Polisiebeamptes word daaraan herinner om te alle tye professioneel op te tree en die beeld van die organisasie te beskerm. Die beperkte staatsbronne mag slegs vir gemagtigde amptelike pligte gebruik word en enigeen wat skuldig bevind word aan die misbruik van voertuie, kantoorbenodigdhede of enige ander staatseiendom, sal deur die interne dissiplinêre prosesse van die polisie en moontlik selfs ’n kriminele klag in die gesig gestaar word, wat tot ontslag kan lei.





