KYK: Karlien van Jaarsveld en Dodo Nyoka sing ‘Ek Verstaan’

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen - Skoll Fotografie

Karlien van Jaarsveld was tydens Die Kontrak Seisoen 2 Dodo Nyoka se mentor. Dodo, die naaswenner in die kompetisie, het vinnig sy skoene in die musiekbedryf volgestaan. Hulle het so pas ‘n duet, Ek Verstaan, vrygestel.

Karlien het reeds oor jare groot sukses in die musiekbedryf behaal. Sedert Die Kontrak het Dodo treffers soos Dancin’ In The Stars, Country Girl Van Bloem, As Ek Opstaan, Foto’s en Frikkie Vir ‘n Rukkie vrygestel.

Fanie Nel van Coleske Group sê met die vrystelling van die duet het ‘n emosionele en betekenisvolle, volronde oomblik aangebreek. “Hierdie nuwe lied bring twee unieke stemme en siele bymekaar in ’n musikale reis wat voortbou op die verhouding wat gedurende Dodo se deelname aan Die Kontrak ontwikkel het.”

Karlien het om saam met Dodo aan Ek Verstaan te werk as ‘n besonderse ervaring beskryf. “Dodo is iemand wat diep voel en sy hart volg wanneer hy musiek skep. Dit was vir my ’n emosionele reis om weer saam met hom te werk. Ons deel ’n soort frekwensie van eenheid; ek verstaan wat hy dink en voel sonder dat ons iets hoef te sê. Hy is iemand wat diep oor die lewe dink – my tipe mens.”

Dodo sê op sy beurt: “Van die eerste keer wat ek Karlien ontmoet het, kon ons mekaar aanvoel en verstaan sonder om baie woorde te gebruik. Dit voel dus reg.”

Sedert Dodo as naaswenner die musiekbedryf betree het, het sy groei as kunstenaar vir Karlien diep geïnspireer. “Ek dink sy gees was nog altyd volgroeid; dis net sy aardse reis wat nou moet opvang. Dit is mooi om te sien hoe hy leer om sy gees en sy lewe in harmonie te bring.”

Volgens Karlien is die lied nie vir sukses geskryf nie, maar is in eenvoud en opregtheid uniek. “Dit was ’n opregte kreatiewe uitdrukking wat uit ons diepste binne kom. Dit is wat dit vir my só spesiaal maak.”

En wat het Dodo hierdie keer geïnspireer? “Die idee het ontstaan uit die feit dat almal soms val, almal kry seer en ek wil vir mense wys dat hulle nie alleen is nie.”

Karlien sê: “Dodo het meeste van die idees voorgestel en ek het net die tweede vers aangepas. Die enigste uitdaging was om te besluit wie watter harmonie moes sing.”

“My ander liedjies is goeie liedjies, maar hierdie keer wil ek die diepte van my hart deel,” sê Dodo.

Nel sê Dodo voel hy en Karlien deel ‘n soortgelyke gees. “Ons hoef nie elke dag te praat nie, maar ons verstaan mekaar. Toe ek die lied vir haar gestuur het, het ons altwee dieselfde verse geskryf sonder om vooraf daarvan te weet.”

“Ons is almal saam, maar tog alleen in hierdie mal wêreld vol bakleiery, maar as jy ooit alleen voel, onthou: Jesus verstaan,” sê Dodo.

Gerduan Kemp het Ek Verstaan se musiekvideo in Ooskerk in Pretoria verfilm. Nel sê dit vang die rou emosie en diepte van die liedjie op ‘n meesterlike wyse vas. “Ek Verstaan is meer as net ’n duet – dit is ’n weerspieëling van twee kunstenaars se gedeelde begrip van mekaar, van die lewe, en van musiek.”

Jy kan Ek Verstaan se musiekvideo hier of bo in die berig kyk. Kry Ek Verstaan hier op alle stromingsplatforms.

Karlien het die volgende boodskap op sosiale media gedeel:

Liefste Dodo, ek het jou met eerste oogopslag liefgekry. Nie oor die diepte van jou stem en die salwing wat in die klank daarvan lê nie, maar oor jou oë. Jy dra ‘n heilige boodskap in jou manier van kyk. Ek kan sien wat jy al gesien het. Ek lees jou storie in jou oë sonder dat jy iets hoef te sê. Baie het nodig om iets van hulleself te verduidelik omdat hulle nog nie geleer observeer het nie, omdat hulle eie punt nog belangriker is as die boodskap. Jy weet hoe dit voel om stil te bly as die wêreld op jou skree. Jy weet hoe om met wysheid en ‘n sagte woord te antwoord sodat die woorde lewe kan bring eerder as om maar net nog leë woorde te wees. Jy verstaan hoe die ware evangelie lyk. Woorde het sy waarde verloor omdat mense te veel praat. My gees het dadelik met joune resoneer, ek kon verstaan. Ek ken jou van ‘n voortyd. Ek was jou mentor in praktyk, maar baie oomblikke het jy my gementor in die stilte. Ek is geëerd om hierdie saam met jou te kan sing. Mag dit in harte val en oor die aarde nog ander vrymaak van ‘n lewe van leë woorde, van seer en pyn. Ons almal val êrens, dankie dat jy ‘n sagte plek hou vir die landing.

Ek verstaan. Jou.

Ek Verstaan is deur Karlien van Jaarsveld, Dodo Nyoka, Jacques Marcelle van Vuuren en Rulandi Liebenberg geskryf. Paulo Azevedo en Jacques Marcelle van Vuuren het Ek Verstaan vir Warner Music Africa vervaardig.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief