KYK: Klaagster glo deur polisie aangerand

Lees ook :

Foto: Skermskoot van video

WAARSKUWING! Die beeldmateriaal is grafies en kan lesers ontstel.

VRYSTAAT. – Beeldmateriaal van ‘n vrou, wat op sosiale media as Stephanie Booysen geïdentifiseer is en glo deur polisielede van Heidedal-polisiestasie aangerand word, is wyd en syd versprei.

Brig. Motantsi Makhele sê die provinsiale kommissaris neem kennis van die beeldmateriaal van die beweerde insident. Die vrou wou glo huishoudelike geweld aanmeld en kla dat sy glo deur polisievroue aangerand is.

Die polisie beskou die beweringe as baie ernstig en die insident word tans deur die polisiewaghond Opod ondersoek. ‘n Interne ondersoek is ook deur die SAPD ingestel. Makhele sê terwyl die polisiebestuur die hulpkreet van die betrokke individu en die gemeenskap verstaan en ook waarom daar gevra word die polisievroue moet onmiddellik uit hul poste verwyder word, is dit belangrik om arbeidswette en wetlike en prosedurele raamwerke te volg om skorsing of verwydering van lede toe te pas.

“Sulke aksies kan slegs geneem word na aanleiding van die uitkomste van formele ondersoeke, wat die bestuur se besluite toepaslik sal inlig.”

Makhele sê die provinsiale kommissaris benadruk optrede van wangedrag of mishandeling word nie geduld nie, maar regverdigheid moet in die prosesse geskied en die lede betrokke moet ‘n geleentheid gegun word om hulle kant van die saak te stel.

“Om die volle konteks te verstaan, insluitende gebeurtenisse wat voor die voorval, wat in die video vasgevang is, plaasgevind het, is noodsaaklik vir ‘n omvattende assessering. Die SAPD bly verbind tot deursigtigheid, aanspreeklikheid en geregtigheid. Ons verseker die publiek dat hierdie aangeleentheid met die erns hanteer sal word wat dit verdien, en toepaslike stappe sal geneem word op grond van die ondersoekbevindinge.”

Makhele versoek die gemeenskap om toe te laat dat prosesse kan plaasvind en liefs nie ongeverifieerde inligting, wat die ondersoek kan belemmer, te versprei nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief