LIMPOPO. – SANParke het Donderdag dagbesoekers se toegang tot die Krugerwildtuin tydelik opgeskort. Die besluit is geneem as ’n voorsorgmaatreël nadat stygende watervlakke as gevolg van aanhoudende swaar reën in Limpopo en Mpumalanga vroeër die week veroorsaak het dat besoekers nie by die Krokodilbrug-hek kon uitry nie. Ontruiming het plaasvind weens die Letaba- en Krokodilriviere wat in vloed is. Nog weerdiens-waarskuwings is uitgereik.
Luidens ‘n verklaring van SANParke is hulpbronne tans onder druk weens die weerstoestande. Daar word ook eerder op noodgevalle en veiligheid gefokus. “Die besluit om dagbesoeke te beperk, is ’n voorkomende veiligheidsmaatreël en sal deurlopend hersien word soos toestande verander,” het SANParke se woordvoerder, JP Louw, gesê.
Personeel en gaste is intussen by die Letaba-ruskamp ontruim, nadat water die kamp binnegedring het, terwyl Phalaborwa-hek vir minstens 24 uur gesluit sal bly. Dit beteken dat daar tans geen toegang tot die noordelike dele van die park is nie. ’n Rooi vlak 10-waarskuwing is deur die weerdiens uitgereik, terwyl groot dele van die park ontoeganklik bly.
Die minister van toerisme, Patricia de Lille, het gesê SANParke en nooddienste het vinnig opgetree en dat die situasie onder beheer is. “Die veiligheid en welstand van besoekers en personeel bly ons hoogste prioriteit,” het sy gesê, en reisigers versoek om veiligheidsmaatreëls na te kom.
SANParke – Kruger National Park het in ‘n sosialemediaplasing, met foto’s, gesê: “Ons hardwerkende vlieëniers en veldwagters het inspeksie by Shimuwini gedoen. Die water het intussen gesak, maar het wel die voorste ry chalets binnegedring.”
Bronne: South African National Parks SANParks – Kruger National Park, SAUK en IOL
Videokrediet SAUK.





