KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ‘n gestorwe familielid is Woensdag deur twee vrouens na ‘n bank in Chief Albert Luthulistraat geneem oor ‘n geskil met begrafnisversekering. Die vroue is deur die Kwadukuza-polisie in hegtenis geneem en sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn. Volgens AdzVantage Stanger se Facebook-blad het die voorval by ‘n tak van Capitec-bank plaasgevind.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, konst. Siphesihle Myeni, het die familie twee versekeringpolisse vir hul ouma gehad – een was uitbetaal en die tweede was steeds in die verifikasiestadium vanweë ’n onduidelike begrafnisondernemer-stempel. Die familie het die liggaam na die bank geneem om te bewys die oorledene het gesterf. Dit was ’n skrikwekkende toneel wat gelei het tot die inhegtenisneming van die twee vroue vir afpersing, intimidasie en openbare rusversteuring.
Die liggaam is vir verdere ondersoek na die Kwadukuza-lykshuis geneem.
Nuusflits het kommentaar van Capitec-bank gevra.





