Waarskuwing! Video aan die einde van die berig kan lesers ontstel.
ITALIë. – Die man wat Dinsdagoggend 8 Julie by die Milan Bergamo-lughawe, in Noord-Italië, dood is nadat hy deur die enjin van ’n vliegtuig ingetrek is, was Andrea Russo (35), ‘n Italiaanse bouer.
Die vliegtuig was bestem om na Asturias in die noordweste van Spanje te vlieg en het reeds van die parkeerarea af begin beweeg toe die voorval plaasgevind het. Die oorledene het glo oor die aanloopbaan gehardloop terwyl die vliegtuig voorberei het om op te styg en is deur die enjin ingetrek. Volgens die Spaanse lugredery Volotea was die oorledene nie aan boord van die vliegtuig of het enige verbintenis met die lugdiens gehad nie.
Volgens die lugdiens was al 154 passasiers en ses bemanningslede ongedeerd en het sielkundige ondersteuning ontvang. Vlugte is teen die middag weer hervat nadat dit tydelik vertraag is.
Owerhede het ’n ondersoek van stapel gestuur om vas te stel hoe die man toegang tot die aanloopbaan verkry het.
Volgens getuies het die man die terminaal aan die verkeerde kant van die pad binnegery en sy motor daar gelaat. Hy het ‘n afgesperde gebied betree wat verbode is vir die publiek en hom nie deur beamptes laat keer nie. Hy het eers teen die kant van ‘n enjin probeer opklim, geval en weer opgeklim. Geskokte lughawebeamptes het gesien hoe hy grond toe val.
Volgens plaaslike polisiebronne het hy voorheen “probleme met dwelms” gehad.
Bronne: CNN, Sky News, RNZ, PEOPLE, The New York Times
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





