KWAZULU-NATAL. – ‘n Minibustaxi met passasiers was vanoggend net na 07:00 in ‘n ongeluk toe die bestuurder beheer verloor en die voertuig gerol het. Talle beserings is op die toneel behandel.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die ongeluk het onderweg na Hammersdale op die Shogweni-hoofpad gebeur. Die minibustaxi het verskeie kere gerol en op sy dak te lande gekom. Meer ambulanse is ontbied. Assessering is saam met Ethekwini-brandweer gedoen en altesaam 16 persone wat matig tot ernstige beserings opgedoen het, is eers gestabiliseer voordat hulle na verskeie Durban-hospitale vervoer is.
Omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, is onbekend, maar die polisie was op die toneel teenwoordig en sal dit ondersoek.





