Video van operasie in berig.
KWAZULU-NATAL. – Die polisie het Vrydagaand onder leiding van lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi ‘n grootskaalse multidissiplinêre operasie in die Punt-gebied van Durban, asook in Umlazi en KwaMashu uitgevoer. Die doel was om wet en orde in probleemgebiede te handhaaf.
Polisiewoordvoerder, kol. Robert Netshiunda, sê Dr. Pixley kaSemestraat was vir die operasie afgesper. ’n Gewilde kroeg wat onwettig bedryf is, is gesluit en die bestuurder, wat glo onwettig in die land is, is in hegtenis geneem. Die polisie het ook op alkohol beslag gelê. Verskeie inhegtenisnemings is onder meer vir die besit van dwelms en die onwettige besit van ’n vuurwapen gemaak. In Umlazi is ’n man aangekeer nadat hy glo polisiebeamptes in die uitvoering van hul pligte belemmer het. ’n Aantal ongedokumenteerde buitelandse burgers is ook vasgetrek.







