INTERNASIONAAL – Ruby Franke (41) van Ivine in Utah en ‘n ma met ses kinders, was voorheen ‘n vlogger met ouerskapswenke. Sy het nou op ses klagtes van kindermishandeling in die hof verskyn. Sy het ‘n pleitooreenkoms aangegaan en op vier van die aanklagte skuldig gepleit.
Volgens die pleitooreenkoms is twee klagtes van kindermishandeling teen haar teruggetrek en die kantoor van die Washingtonse streekslanddros het ingestem om in toekomstige verrigtinge van die Utah-paroolraad neutraal te bly. Sy gaan teen haar mede-beskuldigde Tony Hildebrandt (54) getuig en het ook tot tronkstraf ingestem.
Op Franke se YouTube-kanaal genaamd 8 Passengers het sy ouerskapswenke en raad aan meer as 2 miljoen intekenare gegee. Tydens die uitsendings is geen kriminele elemente opgemerk nie. Volgens beriggewing het sy egter kritiek ontvang op haar ouerskapswenke en straf wat sy op haar kinders toepas.
Sy en haar man het huweliksprobleme ondervind en het by ‘n berader genaamd Tony Hildebrant vir hulp aangeklop. Hildebrant het aanbeveel Franke se man trek uit die huis uit, wat hy gedoen het. Franke en die kinders het daarna by Hildebrant ingetrek. Hulle het toe gesamentlik op ConneXtions Classroom op YouTube, wat aan Hildebrandt behoort, verskyn.
Op 30 Augustus vanjaar het een van haar 12-jarige kinders (‘n seun) uit Hildebrant se huis ontsnap en is na die bure toe om vir kos te vra. Die kind het bleek en swak voorgekom en die owerhede is gekontak.
Die kinders was onder meer met plakband aan hul enkels aan die grond vasgebind en het beserings gehad van toue en boeie wat ook gebruik was om hulle in te perk. Hulle is ook van kos en water ontneem en is oordadig aan sonbrand blootgestel omdat hulle buite móés wees. Selfs hulle koppe is onder water gedruk. Twee van die kinders is vir beserings in ‘n hospitaal behandel.
Franke sal op 20 Februarie 2024 gevonnis word.
Sy het op die laaste klagte skuldig gepleit met die woorde: “With my deepest regret and sorrow for my family and my children”.
Bronne: Court TV, Sky News en BBC
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





