MPUMALANGA. – Twee jong mans is Dinsdagaand op die N12 tussen Kendal en Ogies deur spiking-misdadigers geteiken. Die voorval het ongeveer 22:00 plaasgevind toe hul voertuig beskadig is deur spykers wat doelbewus in die pad geplaas is.
Live Traffic NPC sê op sosiale media volgens inligting het die slagoffers dringend hulp ontbied, maar kontak is skielik met hulle verbreek. ’n Insleepdiensbestuurder was die eerste op die toneel en het ’n verlate bakkie langs die pad aangetref. Hy het spykers op die teerpad opgemerk en onmiddellik vir bystand geroep. Verskeie rolspelers, insluitend die polisie se blitspatrollie, SACCW Witbank, vrywilligers, veiligheidsmaatskappye en Bidvest AirWing, het hulle na die toneel gehaas.
Na ’n intensiewe soektog het die twee slagoffers uit die donker na vore gekom. Hulle is glo beroof, met vuurwapens en messe gedreig, van hul selfone en bankkaarte ontneem en is gedwing om hul bank se geheime PIN-nommers bekend te maak. Meer as R38 000 is uit hul rekeninge onttrek.
“Die voorval is deel van ’n groeiende vlaag van spiking-aanvalle op paaie. Vragvervoer word toenemend beperk tot dagligure en nagreise word deur vrees oorheers. Die gemeenskap word daaraan herinner om nie stil te bly nie, en #dontstop4spikes dien as ’n waarskuwing teen die gevare op die land se hoofweë. Die polisie-ondersoek duur voort.
Live Traffic NPO koördineer die reddingspogings, dikwels met ongewapende insleepdiensbestuurders en ander vrywillige dienste wat hulle lewens waag.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





