KYK: Nóg ‘n Kontrak-sanger stel enkelsnit vry

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen - Skoll Photography

Lisie Basson, liedjieskrywer en sangeres, wat aan Die Kontrak Seisoen 2, deelgeneem het, het Vrydag haar nuwe enkelsnit Klaar Geweet, vrygestel.

Fanie Nel van Coleske Group sê Basson, wat harte as die kopskud-sanger gesteel het, se nuwe enkelsnit laat vlinders in jou maag dans.

Nel sê Basson se debuutsnit, #23, is onlangs vir ‘n Aitsa Afrikaanse Musiektoekenning in die kategorie Alternatiewe/Rock Liedjie van die Jaar, benoem.

“Dit het my so baie inspirasie gegee en my só aangemoedig om meer te skryf en net te groei as ’n kunstenaar,” sê Basson, wat op ‘n kreatiewe reis beland het en sodoende Klaar Geweet kon uitreik.

Klaar Geweet gaan oor ‘n nuwe verhouding en die wete dat ‘n persoon ‘n groot rol in jou lewe gaan speel. “Ek het iets probeer skep wat dadelik mense se aandag trek en waarop jy sommer dadelik wil begin dans.”

Basson het Klaar Geweet saam met Bella Coleske geskryf. Nel sê Basson hoop die liedjie sal dieselfde gevoel by luisteraars wek as wat sy met musiek voel. “Vlinders in jou maag van ’n liedjie is régtig ’n ding. Al gee hierdie liedjie net vir een mens daardie gevoel, sal ek gelukkig wees.”

Die musiekvideo, haar heel eerste, beskou sy as ‘n groot voorreg en sê dis beslis nie die laaste nie. Sy voel die musiekvideo, deur Eric T Graham en Tehan Buys, is anders as wat deesdae die norm is. “Die hele idee van die musiekvideo was om mense te wys wie ek as kunstenaar is. Ek ken vir Georic Lomas al van die dae af toe ek altyd by kuiergeleenthede musiek gemaak het, en hy het destyds al gesien hoe ek in aksie lyk. Hy het voorgestel dat ons dit in die video wys – dat mense sien wie Lisie Basson regtig is.”

Dan vertel Basson dit was moeilik toe sy in die Top 4 uitgeval het, maar sê dit het haar op die regte pad gestuur. “Ek het nie daardie tyd geweet wie Lisie Basson is nie, maar nou weet ek. Ek is gereed om die musiekbedryf aan te pak met die wete dat God ’n groter plan vir my gehad het.”

En wat is in hierdie sanger se toekoms? “Skryf, skryf, skryf en soveel musiek as moontlik bymekaarsit om te kan begin uitreik.”

Kyk na Klaar Geweet hier of bo in die berig. Klaar Geweet kan ook hier op alle stromingsdienste gekry word.


Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief