OOS-KAAP. – ‘n Onderwysers (45) is Maandagoggend omstreeks 08:00 deur ten minste drie verdagtes ontvoer nadat sy by Happydale Spesiale Skool in Algoapark in Gqeberha aangekom het.
Kapt. André Beetge sê die polisie is na die toneel ontbied. Die onderwyseres het met haar grys Toyota Fortuner by die skool aangekom. Die verdagtes het kort daarna in ‘n wit Toyota Corolla stilgehou en haar met geweld in hulle motor gestop.
Beetge bevestig nog geen losprys is gevra nie. ‘n Saak van ontvoering is gemaak en word ondersoek. Enigiemand met relevante inligting kan AO Mike Joni by 071 475 1891 bel.
Ian Cameron, parlementêre voorsitter van die portfoliokmitee oor die polisie, sê die verdagtes het skote geskiet voordat hulle met die onderwyseres weggery het. Die onderwyseres is glo die vrou van ‘n bekende sakeman.
“Om individue te teiken om druk op gesinne en besighede te plaas, is deel van dieselfde groeiende kriminele ekonomie wat ons openbare veiligheid en ekonomie knou. Hierdie week is ons parlementêre portefeuljekomitee oor polisie in die Oos-Kaap en KZN besig om toesig te hou oor toenemende afpersingsverwante misdade. Dit sluit alles in van konstruksiemafias en besigheidsake tot ontvoerings soos hierdie. Ons sal voortgaan om SAPD se leierskap en die regering te druk om hierdie dade nie as geïsoleerde voorvalle te hanteer nie, maar as deel van ‘n georganiseerde bedreiging. Suid-Afrikaners verdien veiligheid – by skoolhekke, in hul huise en op straat.”





