LIMPOPO. – Lede van die Maake-polisiestasie was Vrydag die teiken van ‘n gewelddadige aanval toe ‘n groep verdagtes aggressief teenoor hulle opgetree het. Die provinsiale kommissaris, lt.genl. Thembi Hadebe, het die insident sterk veroordeel en benadruk dat sulke dade nie in Limpopo geduld sal word nie.
Police officer attacked.
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) November 12, 2024
•POPCRU Limpopo condemns the attack on police officers at the Maake police station
The Police and Prisons Civil Rights Union (POPCRU) in Limpopo expresses its outrage and strong condemnation following the assault of a police officer at Maake Police… pic.twitter.com/RZgPKrtgf3
Volgens kol. Malesela Ledwaba het die voorval begin toe ‘n groep verdagtes by die stasie opgedaag het om ‘n beseerde vriend, wat vermoedelik onder die invloed van alkohol was, by te staan. Die groep het aggressief geraak en aangedring dat ‘n saak vir hul vriend oopgemaak word. In die proses het aanranding van die polisie plaasgevind. Een polisielid se hemp is geskeur, en sy polshorlosie is gesteel.
Met behulp van kollegas wat op die toneel aangekom het, is Tshepo Modika (36), Pobetsi Modiba (28), Given Nkhwashu (23), Isaiah Mafeto (37) en Donny Letsoalo (23) gearresteer. Die vyfmanskap het Maandag op aanklagte van aanranding van ‘n polisiebeampte, roof en opsetlike saakbeskadiging in die Maake-landdroshof verskyn. Die saak is vir formele borgaansoek tot Vrydag uitgestel, en die verdagtes bly steeds in aanhouding.
Die insident het vinnig op sosiale media versprei, en lt.genl. Hadebe het haar teleurstelling uitgespreek oor die poging om die gesag van die polisie te ondermyn. Sy het die belangrikheid van samewerking tussen die polisie en gemeenskappe beklemtoon.
“Daar word van die polisie verwag om sekuriteit aan ons gemeenskappe te verskaf en sulke sinnelose aanvalle op die lede wat veronderstel is om dieselfde gemeenskap te dien, is ‘n terugslag vir ons missie om veiligheid te verseker. Die gemeenskap en polisie is veronderstel om saam te werk. Die aanval van lede deur die gemeenskap is die laaste ding wat verwag word, aangesien ons veronderstel is om te verseker dat hulle en hul gesinne veilig en beveilig is.”
Die ondersoek na die voorval duur voort.





