KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisievrou het Woensdagoggend net na 10:00 in ‘n sekondêre ongeluk op die M7 rigting Durban, net voor die N2-brug, gesterf.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê daar is aanvanklik aandag gegee aan ‘n ernstige vragmotorbotsing. Paramedici het twee persone gestabiliseer en hospitaal toe vervoer toe daar verskeie oproepe vir die sekondêre ongeluk op dieselfde plek ontvang is.
Jamieson sê paramedici is deur totale chaos begroet. Terwyl daar gepoog is om die vragmotor van die eerste toneel te verwyder, het nog ‘n vragmotor in die ongelukstoneel ingeploeg en twee polisievoertuie, twee vragmotors en nog twee voertuie, getref. Beheer is oor die vragmotor verloor waarna dit teen ‘n wal af is.
‘n Polisievrou, vermoedelik in haar 30’s, wat deur die vragmotor getref is, is op die toneel dood verklaar. Nog drie persone se beserings is gestabiliseer voordat hulle na ‘n nabygeleë Durbanse hospitaal vervoer is.
Die polisie was teenwoordig en sal die ongeluk ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





