Buiten privaatvoertuie, het verskeie ambulanse en ook polisievoertuie onlangs op paaie in en om Gauteng deur skerpgemaakte penne (spikes) gery. Deskundige advies word in die video hier bo gegee.
Nie net penne nie, maar ook klippe word gebruik om motors tot stilstand te dwing. ‘n Polisievoertuig is onlangs met ‘n klip gegooi en ‘n polisiebeampte is beseer.
Intussen is verskeie WhatsApp-groepe gestig waar motoriste wat slagoffers is, dadelik hulp kan bekom. Nadat ‘n voorval op ‘n voorgeskrewe manier aangemeld word, deur onder meer ‘n liggingmerker te stuur, duur dit slegs enkele minute voordat hulp opdaag. Maar soos deur Top Auto berig word, verander die modus operandi van die misdadigers soos wat motoriste anders reageer.
Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van Noordwes, sê die polisie en verskeie rolspelers werk saam om hierdie insidente te bekamp. Daar word op die N4-hoogweg gefokus. Mokgwabone vra motoriste moet voorvalle op ander paaie aanmeld.
Brig. Brenda Muridili, woordvoerder van Gauteng, sê op 11 Mei is inligting ontvang oor verdagtes wat vir insidente van penne op hoofweë en misdade verwant aan aanlyn-inkope verantwoordelik is. ‘n Operasie is geloods, waarna 11 verdagtes in hegtenis geneem en een doodgeskiet is. Die verdagtes is na bewering vir insidente op die N1, N4 en R80 verantwoordelik.
Die Motor Industry Staff Association het die volgende brandpunte van penne-voorvalle saamgestel.

Bronne: MISA, SAPD, Rekord, Pretoria Traffic & Road Incidents





