KYK: Reddingsoperasie waartydens twee mans na bootongeluk sterf

Lees ook :

Foto's: Skermgrepe van video-opnames Brandon Lorenzo X

WES-KAAP. – Twee mans is Donderdagmiddag oorlede en nog een het oorleef toe ‘n boot tussen Saunders Rocks en Queens Beach in Bantrybaai omgeslaan het.

NSRI-Tafelbaai en -Bakoven, sowel as die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk, polisie, nood- mediese dienste, die brandweer en CoCT-wetstoepassing is omstreeks 14:00 geaktiveer. Meer dienste is op bystand geplaas en ‘n reddingsboot, sowel as ‘n reddingshelikopter met ‘n reddingsduiker, het opgestyg.

Omstanders het pienk reddingsboeie van die NSR in ‘n poging om te help in die see gegooi.

Reddingswemmers was eerste op die toneel. Hulle het twee mans, vermoedelik in die 20 en 60, in die see van Queens Beach af bereik. Die jonger man is aan land gebring en vir hipotermie en nie-fatale verdrinkingsimptome behandel. Hy is na ‘n hospitaal geneem waar hy aansterk.

Die ouer man, wat nie reageer het nie, is deur ‘n reddingswemmer gehelp om te dryf, totdat hy op die reddingstuig gelaai is. Mediese noodhulp en KPR is op die reddingstuig, sowel as by Drieankerbaai, op hom toegepas. Ten spyte van alle pogings is hy dood verklaar.

Nog ‘n persoon was steeds vermis. Hy is tydens ‘n soektog van die EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter, reddingswemmers, persone op land en ‘n reddingstuig, deur die helikopter opgemerk. Die reddingsduiker aan boord van die helikopter is die water in na die man, wat geen reaksie getoon het nie. Die duiker en die man, vermoedelik in sy 60’s, is na die parkeerarea by Queens Beach gevlieg waar KPR op hom toegepas is. Hy is ook dood verklaar.

Die NSRI sê die drie mans is vermoedelik van die noordelike voorstede van Kaapstad en wel aan die vissers-, boot- en maritieme gemeenskappe bekend. Die drie mans het hulle boot by Drieankerbaai gelanseer om vis te vang. Daarna is die boot in die see by Bantrybaai deur ‘n brander getref en dit het omgeslaan.

Ooggetuies wat hulp ontbied het en die omstanders wat die reddingspersoneel bygestaan het, is deur die NSRI geprys.

Die boot het op die rotse by Queens Beach uitgespoel. Familie van die oorledenes word deurentyd bygestaan.

Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief