Rudi Claase, die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat vir die afgelope drie maande in die hospitaal was, het vir die eerste keer weer self ‘n video met sy ondersteuners gedeel.
Claase sê hy gaan nie nou oor alles wat met hom gebeur het praat nie, maar wel wanneer hy ontslaan en tuis is, wat waarskynlik einde volgende week sal wees.
Die sanger, wat steeds swak is, het met ‘n glimlag gesê hy moes weer leer loop en praat, maar hy gaan beslis aan beplande konserte op 25 Februarie meedoen, al sal hy moontlik meer sit as staan.
FiND iT het op 2 Januarie soos volg berig:
Rudi Claase, die bekende SA-sanger en liedjieskrywer, het Sondag ‘n sosialemediaplasing gemaak waarin hy sê hy kon na nege weke in die hospitaal vir die eerste keer opstaan.
“Julle!!!! PRYS DIE HERE. Ek kon vandag opstaan!!! Eerste keer uit bed in 9 weke!!!”
Claase het vir ‘n lang ruk met sy gesondheid gesukkel en gereeld openlik daaroor gepraat.
Suzette Claase het Rudi se aanhangers tydens haar man se hospitalisasie deurentyd op hoogte van sy mediese vordering gehou. Op 22 Desember, na hy reeds sewe weke in ‘n intensiewesorgeenheid deurgebring het, het sy gesê alhoewel hy swak is, hulle kon kummunikeer. Hy was toé nog op minimum suurstof en was aan dreinerinspype gekoppel. Sy het egter gesê hy moet nog vir ‘n paar weke in die hospitaal aansterk.
Sy was hoopvol hy sou binnekort met hulp kon opstaan, wat hy dan uiteindelik Sondag op die Oujaar kon doen.
Die sanger was gedurende middel-Desember steeds in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal en kon na 24 dae van ‘n ventilator gespeen word.
Suzdette Claase het 2023 beskryf ‘n jaar waartydens Rudi 10 keer in die teater was as lank, maar sê ook hy is nou van kop tot tone “oorgedoen.” Claase het sy volgelinge deur die jaar oor sy gesondheid op sosiale media op hoogte gehou.
Die oorsaak van Claase se lae immuunsisteem is gediagnoseer en Suzette sien uit na 2024 vir ‘n gelukkige en gesonde jaar.
Sy sluit die plasing af met dank vir al die ondersteuning en sê sy sal opvolgplasings maak as daar veranderinge is.
Bron: Suzette Claase en Rudi Claase Facebook-blad.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





