GAUTENG. – JMPD se taktiese reaksie-eenheid het ‘n verdagte Zimbabwiese man (26) in hegtenis geneem nadat ‘n video oor ‘n selfoon-grypdief in aksie op sosiale media versprei is. Die verdagte en nog drie verdagtes word van ‘n reeks selfoon-diefstalle regoor Gauteng verdink
Luidens ‘n verklaring deur die Johannesburgse-metropolisie het die inhegtenisnemings gevolg ná die video waarin die primêre verdagte ’n selfoon van ’n vrou gesteel het, aanlyn verskyn het. Inligting het na ’n woonstel in Hillbrow gelei, waar die man op ’n balkon aangetref is met ’n selfoon waarvan hy die besit nie kon verklaar nie. Hy word glo verbind aan verskeie selfoon-diefstalle, die kaping van ’n afgetrede JMPD-lid gedurende Maart 2025 en die gebruik van ’n Toyota Corolla met gekloonde nommerplate tydens misdade.
Ondersoek oor die verdagte se mede-verdagtes het tot die inhegtenisneming van drie Bangladesjiese mans in Johannesburg-Sentraal gelei. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle gesteelde selfone “flush” (herprogrammeer of uitvee). Toerusting vir die flush-proses is tydens die inhegtenisneming gevind.
Die Zimbabwiër, die hoofverdagte, is by die Hillbrow-polisiekantoor op aanklagte van die besit van gesteelde goedere aangehou. Die drie verdagtes van Bangladesj is by die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor aangekla en aangehou. Al vier sal binnekort in die hof verskyn.
Kommissaris Patrick Jaca van die JMPD het die vinnige aksie geprys en gesê dit is ’n belangrike deurbraak in die stryd teen misdadigers wat inwoners terroriseer. Hy het die publiek aangespoor om waaksaam te bly en verdagte aktiwiteite aan te meld.
[ON AIR] A viral video showing a cellphone robbery in Pretoria led to the arrest of a suspected phone thief in Hillbrow, after social media users helped identify him and generate pressure on law enforcement. The Johannesburg Metropolitan Police Department’s Tactical Response Unit… pic.twitter.com/iYso8s8ufm
— SAfmRadio 📻 (@SAfmRadio) January 1, 2026





