GAUTENG. – ‘n Sinkgat het op die kruising van Lagerbrinkstraat en Burgerrylaan in Lyttelton Manor, Centurion, ontstaan en die pad is noodgedwonge ter wille van veiligheid gesluit.
Sinkhole between Langerbrinkroad and Burger Ave…. Centurion "Lyttelton" pic.twitter.com/mqhIe0iSzT
— Joe Cymphonic (@Cymph3) May 9, 2025
David Farquharson, die DA-raadslid van Centurion wyk 57, het vroegoggend op sosiale media gewaarsku die sinkgat is ‘n gevaarsone en is toegemaak. Waterpype is weens die sinkgat gebreek en die toevoer moes toegemaak word. ‘n Minisubstasie staan letterlik op die rand van die sinkgat. Farquharson het gewaarsku indien dit in die sinkgat sou val, die gebied ook sonder elektrisiteit sal wees.
Sy woorde was skaars koud, toe hy inwoners moes inlig ‘n kortsluiting het op die minisubstasie ontstaan en ‘n groot area is sonder elektrisiteit. Die elektrisiteitsdepartement is in kennis gestel. Die minisub op die hoek van Langebrink by die nuwe sinkgat het ‘n kortsluiting gehad, wat ’n kragonderbreking in ’n groot gebied veroorsaak het.
Farquharson sê alle spanne, insluitend die elektrisiteitsdepartement, is bewus van die huidige probleem.
Die Stad Tshwane het in ‘n plasing kennis gegee dat die pad gesluit is en dat ‘n span ontplooi is om ondersoek in te stel.

Foto: Stad Tshwane
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com