KYK: Spitsvondige minister veroorsaak skaterlag tydens inswering

Lees ook :

Foto: Skermgreep van uitsending deur Akhona Asavela Warwick Manzi

Video-uittreksel: Theo Doyle

Gayton McKenzie, die nuut ingesweerde, spitsvondige minister van sport, kuns en kultuur het tydens sy inswering eers teen ‘n spoed met die lees van die ampseed weggetrek. Hoofregter Raymond Zondo het vinnig met too fast gekeer.

McKenzie het weer begin lees en humoristies ingelas: “…not to divulge like mr. Mantashe directly or indirectly,” wat almal teenwoordig laat skaterlag het. Met ‘n glimlag op sy gesig en in sy stem het Mckenzie daarna die aflees van die eed voltooi.

Toe die hoofregter hom vra om te sit, het hy ewe laat hoor: “The last time a judge asked me to sit he made me sit for 10 years.” Dit het weer ‘n skaterlag veroorsaak. Die regter se lag kon deurentyd tydens die video-uitsending gehoor word, totdat hy gesê het: “That was a long time ago,” waarna hy Mckenzie se hand geskud het.

Met ‘n buiging onder applous van die teenwoordiges het McKenzie na president Ramaphosa gestap. Die president het speels na hom gewys en sy blad geskud. McKenzie se ligte luim het hom twee keer ‘n bladskud van die president besorg.

McKenzie, ook die president van die Patriotic Alliance, is op 10 Maart 1974 gebore. Hy het in Heidedal in Bloemfontein grootgeword en is later tot 17 jaar gevangenisstraf vir roof gevonnis. Daar is deeglik van hom kennis geneem toe korrupsie in die tronk tydens sy jare daar ontbloot is. Dit is deur die Jali-kommissie ondersoek en het tot sy vroeë vrylating gelei.

McKenzie was ‘n voormalige uitvoerende burgemeester van die Sentrale Karoo-distrik en staan ook bekend as ‘n outeur, sakeman en motiveringspreker.

Voor die amptelike foto geneem kon word, moes daar eers vere reggeskud word.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App